Karoo Lam Nuusbrief 2024

17 December 2024 by
Karoo Lam Nuusbrief 2024
Admin

Dit is nou net meer as een jaar sedert die regering “Karoo Lam” se status as unieke Suid-Afrikaanse voedselproduk bevestig het. Op 27 Oktober 2023 is Karoo Lam amptelik as Geografiese Indikator in die Staatskoerant geproklameer. Dit beteken nou dat lam net as Karoo Lam bemark kan word as dit aan spesifieke reëls voldoen. In wese bied hierdie status nou ‘n magsposisie en beskerming aan Karoo boere, abattoirs, en kleinhandelaars. Niemand mag nou die woord “Karoo Lam” gebruik as die lam nie vry lopend op natuurlike veld in die Karoo streek geproduseer is nie.


Hierdie is ‘n ongelooflike prestasie en verskaf erkenning aan die mense van die Karoo. Die groot taak is om hierdie status van “Karoo Lam” te om arm en so wyd as moontlik bekend te maak.


In hierdie verband tree die Karoo Lam Konsortium namens die boere, abattoirs en geregistreerde handelaars op en doen interne kontrole  en registrasie, en skakel met SAMIC en die Departement van Landbou om geregistreerde lede aan hulle te bevestig.


Vervolgens deel ons graag van die belangrikste prestasies van die afgelope jaar met u in die nuusbrief.

Die afgelope twee en 'n half jaar is daar hard gewerk aan die tegnologie en prosesse om te voldoen aan die vereistes om 'n suksesvolle GI te kan bestuur. Om te kan kwalifiseer as 'n Karoo lam produsent is dit belangrik dat die plaas in die Nama Karoo Bioom geleë is. 

Statistiek ten tye van die uitstuur van die Nuusbrief:

  • 190 geverifieerde produsente portfolio's;
  • wat op 285 plase boer; en 
  • 'n totaal van 1,56 miljoen hektare verteenwoordig.

Vier Abattoirs is geregistreer en is gemagtig om Karoo Lam soos beskryf in die GI regulasies te slag. Hulle kan privaat slag vir boere wat self wil bemark of op bestelling van geregistreerde kleinhandelaars. Al vyf die onderstaande abattoirs is in besit van die amptelike “Karoo GI” rollermerk en kan dus lam van geregistreerde plase slag en rolmerk:

  • Carnarvon Abattoir (KLK)
  • Kyto De Aar Abattoir
  • Williston Abattoir (Cavalier)
  • Karoo Lam Abattoir (Beaufort-West)
  • Graaff Reinet Abattoir (Graaff Reinet)

Die aantal kleinhandelaars wat Karoo Lam verkoop het goed toegeneem in 2024 en daar is nou 19 geregistreerde verwerkers en handelaars:

  • SPAR (Seepunt)
  • MB Forsmay Muslim Butchery (Johannesburg)
  • Ryan Boon Speciality Meats (Paarl & Rondebosch)
  • Son-of-a-Butcher (Seepunt)
  • Donkin Deli (Beaufort-West)
  • Dellville Karoo Lamb (Carnarvon)
  • Hartman & Seuns Slagter (George)
  • OK Foods (Beaufort-West)
  • N'Rougas Farm (Kenhardt - Online)
  • La Motte (Franschhoek)
  • Venter's Game & Biltong Deli (Graaff-Reinet)
  • 4 Sheep (Beaufort-West)
  • Indaba Meat (Beaufort-West)
  • Three Sons Lamb (Stellenbosch)
  • Three Sons Lamb (Mosselbaai)
  • Three Sons Lamb (Kleinmond)
  • Three Sons Lamb (Hermanus)
  • Three Sons Lamb (Kimberley)
  • Tjopshop (Parow)

Die Karoo Lam Konsortium sal daarop fokus in 2025 om met 'n uitgebreide bemarkingsveldtog die syfers te bly groei en hierdie ondernemings met bemarkingsmateriaal en advies te voorsien.

Die konsortium was suksesvol om fondse uit Frankryk te ontvang om te help om naspeurbaarheid an administrasiesisteme te ontwikkel.


Elke produsent en plaas kry 'n unieke nommer by Karoo Lam Konsortium na afloop van die registrasie proses. Die lys van produsente en plaas nommers word met die deelnemende abattoirs gedeel. Wanneer 'n produsent dus sy lammers aflaai by die abattoir, identifiseer die abattoir die produsent as 'n geverifieerde Karoo Lam produsent. Die geslagde lammers kry dan 'n KLC (Karoo Lamb Consortium) nommer wat op die koper se faktuur verskyn.


Huidiglik bestel die vleisverwerkers etikette by Karoo Lam Konsortium. Die etikette word in 'n rol aan hulle uitgereik met 'n unieke stel nommers. Die konsortium is nog in die proses om met die vleisverwerkers te werk met betrekking tot die verwerkingsinligting wat volledige naspeurbaarheid vanaf die plaas tot in die winkel sal toon.


Karoo Lam Konsortium moedig handelaars om seker te maak dat verpakking in die rakke verskyn met die unike Karoo Lamb GI logo op. Dit gee die verbruiker vertroue dat hy of sy 'n ware Karoo Lam produk koop.

Die Karoo Lam webwerf is opgedateer en verbeter en verskaf ook die punt waar boere en kleinhandelaars en ander kan registreer. Inligting oor die regulasies, die definisie van die karoo  en video’s en blogs is op die webwerf gelaai. Sien www.karoolamb.or​g.

Karoo Lam word wyd op sosiale media bemark. Ons het paar kundiges aangestel om materiaal te ontwerp vir die verskillende platforms. Karoo Lam is nou aktief op Facebook, Instagram, X (Twitter) en YouTube. Kliek gerus op enige van die sosiale media platform hieronder om die Karoo Lam blad te besoek.

Verder is fondse aangewend om die Karoo lam logo en etiket te ontwikkel en ook materiaal voor te berei vir bemarking in winkels wat Karoo lam verkoop.


Reeds is 60,000 etikette aan kleinhandelaars verkoop.

Die konsortium het nou 'n volledige stel van ontwerpe van baniere, brosjures en sosiale media materiaal beskikbaar wat aan deelnemers wat Karoo lam wil bemark gratis beskikbaar gestel kan word.

Uit die beskikbare fondse kon ons ‘n inligtingsveldtog saam met Landbouweekblad befonds. Landbouweekblad was bereid om ons finansieel te ondersteun met ekstra blootstelling op hul sosiale media platforms asook twee insetsels op Landbouweekliks se TV program op Via, DSTV Kanaal 147. 

Die onderhoude op Landbouweekliks is hier beskikbaar:

Episode 1

Episode 2


Tydens vanjaar se kompetisie het 29 Karoo-lamboere, wie almal geregistreer is by die Karoolam-konsortium, die egtheid en kwaliteit van Karoolamsvleis ten toon gestel. Deelnemers is op streng kriteria beoordeel, insluitend vleis smaak, tekstuur, en algehele kwaliteit.

Lees die volledige artikel deur op die skakel te kliek hieronder: 


Aan al ons Karoo Lamb Konsortium produsente, abattoirs, vleisverwerkers en ondersteuners.


Baie dankie vir julle ongelooflike ondersteuning en samewerking deur die jaar. Julle harde werk, toewyding en passie vir gehalte maak alles wat ons doen moontlik. Julle is die hartklop van ons sukses, en ons waardeer elke bydrae wat julle lewer om Karoo Lamb se unieke karakter en trots uit te dra.


Ons wens julle ’n vreugdevolle Kersfees toe, gevul met liefde, vrede en kosbare oomblikke saam met geliefdes. Mag 2025 vir julle almal ’n jaar van voorspoed, groei en nuwe geleenthede wees. Ons sien uit daarna om saam voort te bou op hierdie wonderlike pad en nuwe hoogtes te bereik.


Baie dankie en voorspoedige nuwe jaar!

Share this post
Labels