MOOK Nuusbrief

Junie 2017 (Afrikaans)
26 June 2017 by

MEAT OF ORIGIN KAROO NPC
(Nr 2012/078056/08)

Nuusbrief #2/2017

Met die intrap slag wil ons graag die lede van “Meat of Origin” Karoo bedank vir hul samewerking in die proses om ledegelde opbetaald te kry. Die direkteure het besluit om boere wat agterstallig is nog een kans te gee tot Vrydag 30 Junie 2017 om hul uitstaande ledegeld te betaal. Na hierdie datum sal agterstallige rekeninge van die plaas lys afgehaal word en sal slegs daardie opbetaalde lede kans gegee word om KMOO lammers te lewer. Sulke lede sal dan opnuut aansoek moet doen om weer op die lys te kom. Hierdie stap is nodig om ‘n finale lys aan DAFF en SAMIC te oorhandig waarvolgens plaas oudits gedoen moet word.

Lede posisie soos op 15 Junie 2017

Ons het in 2017 die volgende slaghuise/kleinhandelaars gelys en dit bring die nuwe totaal van kleinhandelaars op 17.

1. Son of a Butcher (Meat Zone)
2. Bull & Bush
3. Sea Point Spar
4. Hout Bay Spar
5. Old Oak Spar

Tot en met 15 Junie 2017 lyk die opbetaalde boere lede/plase as volg:

Carnarvon-distrik:           89 plase = 36 Lede
Williston-distrik:                104 plase = 60 Lede
Calvinia-distrik:                3 plase = 1 Lid

Daar is dus nou 196 plase op die KMOO lys en volgens SAMIC se 10% reël moet 20 plase in 2017 geoudit word. Daar is reeds 8 plase vanjaar geoudit en dus sal SAMIC nog ‘n verdere 12 plase vanjaar moet oudit. Die ouditkoste word deur MOOK gedra en befonds uit die ledegeld. 

Die nuwe syfers beteken dat 49 boere gehoor gegee het aan die beroep om ledegeld te betaal en daarvoor is ons baie dankbaar. Hierdie bydraes verseker dat die skema om Karoo Lam teen vervalsing te beskerm met sukses sal voort bestaan

Bemarking en verkope van Karoo lam

Die aantal karkasse wat as gesertifiseerde Karoo Lam verkoop word, bly nog steeds stabiel en die maandeliks word daar in die orde van 900 ‘egte’ Karoo Lam karkasse verhandel. Tot aan die einde van Mei 2017 is 4 450 Karoo Lammers by boere aangekoop en aan die verskillende kleinhandelaars verkoop. 

Belangrike versoek aan boere wat privaat slag

Weereens moedig ons boere aan om die lammers, twee-tand hamels of ooie wat hulle self laat slag en self laat bemark of vir vriende/familie skenk ook as KMOO skaap te spesifiseer en so te laat rolmerk. Julle kan dan net vir Top Tjops (Carnarvon) of Karusaf (Williston) vra om dit te verpak met KMOO sertifiseringsmerk of in ‘n KMOO boks. Die belangrikste deel van die proses is om die verwyderings dokument of ‘declaration’ aan die slagpale so te spesifiseer dat dit wel van ‘n KMOO plaas kom, die lid nommer te verskaf en dan die abattoir te versoek om die diere wat privaat geslag word ook as KMOO te merk. By die verwerkingsplek spesifiseer jy ook die KMOO verpakking. Onthou die KMOO merk kan vir alle skaap gebruik word wat vry lopend op Karooveld gewei het en daarvandaan geneem is vir slagting.

Onthou dit beteken baie vir die Karoo Lam merk indien jy vir vriende of familie die ware Jakob kan aanbied. Sodoende sal die woord baie vinnig versprei en mense sal begin aandring om slegs Karoo Lam (of skaap) met die sertifiseringsmerk, stempel en rolmerk te koop. Sodoende onderskei jy jou self van die ander boere wat sogenaamde Karoovleis in die Wes-Kaap of Gauteng smous.

Ten slotte ‘n versoek aan alle MOOK lede - versprei die beginsel en uniekheid van ons ‘regte’ Karoo lam en vra nie-deelnemende winkels, padstalle en abattoirs om te registreer sodat hulle kan deel in die ontginning van die ongelooflike potensiaal van Karoo lam!


Vriendelike groete

Johann Kirsten

26 Junie 2017


Share this post
Labels