NUUSBRIEF EN KERS- EN NUWEJAARSWENSE AAN KAROO LAM PRODUSENTE EN LEDE VAN DIE KAROO VLEIS VAN OORSPRONG SERTIFISERINGSKEMA
Terwyl die jaar 2014 na sy einde snel en die feestyd op ons is, is ‘n oorsig oor die vordering met die sertifiseringskema van Karoo Lam en Karoo Skaapvleis gepas.
Karoo Lam het gedurende 2014 geweldig baie kosbare media blootstelling gekry, met verskeie TV programme en artikels in tydskrifte wat met prag en praal die boodskap van die uniekheid, smaaklikheid en eerlikheid van egte Karoo Lam weergegee het. Voorbeelde hiervan is te siene op ons nuut ontwerpte webbladsy by www.karoomeatoforigin.com. Met hierdie blootstelling asook die deelname aan die “Taste Festivals” in Durban, Kaapstad en Johannesburg is meeste Suid-Afrikaners nou deeglik bewus van die etiese belangrikheid van die korrekte etikettering van vleis en die korrekte aanduiding van die oorsprong van vleis asook die besonderse kwaliteit en smaak van Karoo lamsvleis.
Die regeringsproses om Karoo Lam amptelike status as ʼn Geografiese Indikator (GI) te gee toon ook belowende vordering. Ten spyte van die feit dat die beskerming van die woorde Karoo Lam onder die “Merchandise Marks Act” nog nie afgehandel is nie, is daar nou aanduidings dat die Europese Unie wel Karoo Lam op sy register van GIs sal erken op basis van die beskerming wat Karoo Lam reeds geniet onder die Landbouprodukstandaarde Wet, die Wet op Verbruikersbeskerming, die Departement van Gesondheid se reëls oor die etikettering van voedselprodukte (Regulasie R146 van 2010) asook die feit dat die sertifiseringsmerk onder die Handelsmerke Wet beskerm word. Om die proses ook verder te versterk het die Karoo Ontwikkelingstigting die volledige protokol en reëls vir die gebruik van die woord Karoo Lam aan die Departement van Landbou (DAFF) oorhandig sodat regeringsregulasies nou onder die Landbouprodukstandaarde Wet uitgevaardig sal word om die definisie van Karoo en Karoo Lam te reguleer en te polisieer. Hierdeur sal die proses wat Karoo produsente in samewerking met die Karoo ontwikkelingstigting sowat 6 jaar gelede van stapel gestuur het, nou amptelike status verkry.
Soos verkoopsvolumes stadig maar seker begin styg het tot sowat 600 karkasse per week, is daar ook toenemende belangstelling onder produsente en ander rolspelers in die ketting om aansoek te doen vir registrasie. As gevolg van hierdie verhoogde belangstelling lyk die huidige lede statistiek as volg:
• Aantal boere: 207
• Aantal plase: 392
• Aantal hektare: 1 608 000
• Aantal gesertifiseerde abattoirs: 5 (Colesberg het besluit om nie weer hul
jaarlikse oudit te laat doen nie en Graaff-Reinette en Beaufort-Wes is tans
in hul oudit proses)
• Aantal gesertifiseerde pakkers: 4
• Aantal gesertifiseerde slaghuise: 11
Een van die kommersiële vennote, GWK, hou hul eie databasis van geregistreerde lede en volgens hul statistiek is daar 115 boere in die GWK bedieningsgebied wat geregistreerde produsente is. Hierdie boere besit 275 plase wat ‘n totaal van 1 057 300 hektaar in die Karoo beslaan. As hierdie GWK syfers in aanmerking geneem word, is daar nou ‘n totaal van 667 plase wat nou gesertifiseer is as ‘Karoo plase’ en wat ongeveer 2.7 miljoen hektaar in totaal in die Karoo beslaan. Hierby ingesluit is sowat 40 boere wat via grondhervormingsprosesse en ander meganismes toegang tot Karoo grond bekom het.
Ons moedig alle voornemende Karoo produsente aan om ons opgegradeerde webwerf, www.karoomeatoforigin.com, te besoek en hul te vergewis van standaarde en presies hoe dit werk om ‘n geregistreerde Karoo produsent te word. Die sertifiseringsproses is vereenvoudig en so ook die koste gegewe die feit dat ’n produsent binne die grense van Distriksmunisipaliteite soos bepaal in Addendum A val en reeds as “Free range” produsent by ander handelsmerke gesertifiseer is.
Na ‘n reeks gesprekke met die kommersiële vennote in die waardeketting, die Karoo Ontwikkelingstigting en die direkteure van die nie-winsgewende maatskappy “Meat of Origin Karoo” (MOOK) is daar besluit om MOOK te herstruktureer om die verteenwoordigende liggaam van alle geregistreerde lede te wees en ook koördinasie binne die waardeketting te bewerkstellig. Die eerste stap was die vorming van ʼn tegniese komitee met verteenwoordiging vanaf die produsent tot verbruiker; en verantwoordelik sal wees om die reëls en protokol te verfyn sodat dit baie makliker deur die verwerkingsbedryf en in die kleinhandel gebruik kan word.
Dit blyk dat die belangstelling vir uitvoere van Karoo Lam ook stadig maar seker besig is om pos te vat. Die feit dat Carnarvon Abattoir daarin geslaag het om FSSC status (ʼn internasionale voedselveiligheidstandaard) te bekom het sal ʼn onmiddellike voordeel gee aan produsente om in die toekoms direk te deel in uitvoermark.
Ons verwelkom ook vir Christa Malan aan boord, sy gaan ons vanaf Januarie 2015 bystaan met die sertifiseringsproses. Baie welkom ook aan alle Willistonners wat intussen die proses van sertifisering voltooi het en aktief hul produk onder die sertifiseringsmerk en hul eie handelsmerk (Karusaf) begin bemark het. Ons weet en vertrou dat hulle in die toekoms nog baie groot kwalitatiewe en kwantitatiewe bydrae gaan lewer tot die uitbreiding van Karoo Lam as ʼn unieke Suid-Afrikaanse vleisproduk.
Sedert ons eerste “Stigtingsvergadering” op 7 Augustus 2006 op Dombietersfontein naby Victoria-Wes tot 19 Julie 2012 toe ons eerste Karoolamsvleis op Food Lovers’ Market se rakke verskyn het, het werklik baie gebeur en is baie momentum opgebou. Hierdie momentum word geïllustreer en bevestig deur die feit dat die Konsortium Merino boere onder leiding van Gawie van Heerden van Dombietersfontein ook nou besluit het om aansoek te doen vir registrasie. Weereens ʼn aanduiding dat mense besef dat hierdie ʼn wenperd is wat hulle moet ondersteun. Hierdie sukses is hoofsaaklik toe te skryf aan die jarelange insette van ʼn paar persone wat ek graag wil uitsonder. Die persone is Prof. Johann Kirsten, Albertus Erasmus (ons prokureur/karooboer) en dan ook ons Algemene Bestuurder, Magda Combrink wat met haar deeglikheid en passie vir ons bedryf die prosesse en sisteme van die sertifiseringskema aanmekaargesit het sodat ons almal se droom kon verwesenlik. Sy verlaat ons einde Desember 2014 wanneer haar 3 jaar lange kontrak ten einde kom. Ons wil haar hartlik bedank vir jarelange, getroue en onbaatsugtige diens. Ons gaan jou mis, Madga!
I hereby would also like to wish all the producers’, abattoirs’, packers’, distributors’ staff and families a Season’s Greetings. I hope this time will be spent resting and recharging so that the new year could start with a jump in your step. Enjoy every moment with your loved ones.
Ek sluit af deur ons Hemelse Vader te dank vir krag en genade.
‘n Geseënde Kersfees en Voorspoedige 2015.
BERTUS STEENKAMP
Newsletter December 2014
Festive Greetings!
31 December 2014
by
in Our blog