In hierdie nuusbrief gee ons terugvoering aan die lede oor die werksaamhede van die Karoo Lam Konsortium oor die afgelope nege maande sedert ons vorige skrywe in Februarie 2022.
Die eerste betaling van die EU se fondse ter ondersteuning van die finalisering van die registrasie van die Karoo Lam Geografiese Indikator in Suid-Afrika is in Maart ontvang. Verder het die Wes-Kaap Departement van Landbou ook fondse geoormerk om die projek vir die finalisering van die Karoo lam GI registrasie te ondersteun. Die Wes-Kaap regering sien Karoo Lam as die volgende amptelike Geografiese Indikator (GI) in Suid-Afrika na hul ondersteuning aan die Rooibosbedryf om suksesvol Rooibos as 'n GI laat registreer.
Daar is verskillende take en aktiwiteite wat deur die Konsortium geïnisieer is en tans parallel loop. Die hoofdoel is om die Karoo Lam GI meganisme gebruikersvriendelik te maak, die administrasie stelsel te vereenvoudig en naspeurbaarheid op te skerp. Dit word alles gedoen sodat handelaars, boere en abattoirs met gemak, met trots en met gerustheid Karoo Lam op hul eie kan bemark en verkoop. Die Konsortium is daar om die waarborge aan almal – veral verbruikers – in plek te sit sodat die unieke waarde van Karoo Lam ontsluit kan word. Die Konsortium doen geen bemarking en prysvasstelling nie, maar is in wese die kollektiewe bestuursagentskap vir die Karoo Lam GI en tree dus in die belang van alle Karoo boere, abattoirs en handelaars op.
Ons verskaf nou kortliks terugvoering van die vordering met die verskillende aktiwiteite ter verwesenliking van die doel om Karoo Lam as GI te registreer.

Die belangrikste aspek van enige Geografiese Indikator is om die oorsprong van die produk te kan bevestig en te kan verifieer. Daarom is 'n behoorlike administrasiestelsel en naspeurbaarheidstelsel absoluut noodsaaklik. Die proses om die oorsprong van die produk te bevestig is myns insiens die belangrikste taak van die Karoo Lam Konsortium en verskaf dus die meganisme waarmee enige boer, kleinhandelaar en entrepreneur met sorg en vertroue met Karoo lam kan handel dryf. Sonder dit is die bewyslas op elke individu en verder sal daar geen vertroue by verbruikers gekweek word dat die produk wel eg en wel uit die Karoo kom nie.
Die konsortium spandeer dus heelwat fondse om hierdie naspeurbaarheidsproses te outomatiseer, te vergemaklik en ook te moderniseer sodat elke rolspeler in die ketting dit sinvol kan gebruik. Jaco Maass en sy span van SDX Africa het reeds ver gevorder met die proses en het reeds besig om 'n aantal loodsprojekte met boere, abattoirs en kleinhandelaars te toets. Die Karoo Lam Administrasie Stelsel (KLAS) is reeds voltooi en op dreef en vergemaklik die kommunikasie en interaksie met lede.
Saam het ons 'n hele paar lesse oor die laaste paar maande geleer. Aanvanklik het ons gedink dat die individuele identiteit van elke lam baie belangrik is, maar het gou tot die besef gekom dat dit niks beteken as ons nie omsien na die ander elemente van naspeurbaarheid nie, naamlik eienaarskap, ligging en dokumentasie. Dis belangrik om eienaarskap, sowel as die ligging van elke rolspeler in die waardeketting te bestuur as Karoo Lam wil bekend staan 'n betroubare GI. Die hele waardeketting proses genereer ongelooflik baie dokumentasie en dit moet alles bygehou word.
Dis waar die relevansie van Blockchain-tegnologie belangrik word. Dit gee ons die vermoë om relevante data te kan deel met rolspelers in die waardeketting sonder dat enigiemand voel hy gee sy kompeterende voordele of persoonlike inligting weg aan 'n derde party. As 'n industrie gaan ons onder toenemende druk kom met betrekking tot volhoubare landbou. Die Karoo Lam sertifisering ondersteun hierdie aktiwiteite en om gebruik te maak van transformerende tegnologieë soos Blockchain naspeurbaarheid kan 'n hele reeks geleenthede vir ons deelnemende lede ontsluit.
Vir enige GI lê die reputasie in die streeksnaam – soos Parma Ham, Parmesaan Kaas of Champagne. Dit is dus die streeksnaam gekoppel aan die produk wat hier beskerm moet word. Die naam verteenwoordig dus ook die meganisme waarmee die produk van ander generiese produkte onderskei word. Om hieraan gestalte te gee en ook 'n moderne gevoel aan Karoo Lam te gee het die konsortium 'n aantal grafiese ontwerpers opdrag gegee om 'n nuwe logo – gekoppel aan die woorde “Karoo lam” te ontwerp.
Ons is baie bly om te kan rapporteer dat die proses feitlik afgehandel is en ons is baie opgewonde met die nuwe konsep. Dit sal groot impak op die verbruikersrakke maak. Sodra al die registrasie prosesse afgehandel is sal ons die logo bekendstel.
As deel van die proses om die reëls vir die Karoo lam so eenvoudig te maak en soveel as moontlik produsente in staat te stel om Karoo Lam te bemark, is dit nodig om die reël rondom addisionele voeding behoorlik te bevestig. In sommige tye van die jaar is addisionele voeding vir diere dalk nodig en soms is dit nodig om lammers voor bemarking af te rond. Die gevaar bestaan egter dat die lam sy Karoo-identiteit en sensoriese eienskappe kan verloor in die afrondingsperiode. Die duimreël is dat 30 dae na verandering in diere se dieet die vetsuursamestelling (en dus sy smaak) sal verander. Die reël is egter nog nooit in die ekstensiewe toestande van die Karoo wetenskaplik getoets nie. Om vir boere 'n voedingsriglyn daar te stel het die Konsortium se lede lammers beskikbaar gestel vir 'n voedingsproef in samewerking met die Vleiskunde Departement by Stellenbosch Universiteit. Die lammers is van die veld gehaal en toe vir verskillende periodes (een week, twee weke, drie weke) gevoer en na elke voedingsperiode is 'n stel lammers geslag. Die sensoriese en chemiese toetse word nou gedoen om te bepaal op watter stadium die voedingsperiode die sensoriese gehalte en uniekheid van Karoo lam laat verdwyn.

Om Karoo Lam se toekoms te verseker is dit belangrik dat die jeug en veral jong sjefs bewus gemaak word van die kwaliteit van Karoo Lam. Vir hierdie doel het ons die kompetisie tussen verskillende hotel- en sjefskole geborg deur vir hulle van die meer onbekende snitte van Karoo Lam beskikbaar te stel.
Dit was wonderlik om te sien hoe die spanne van verskillende agtergonde en etnisiteite saamgewerk het om die beste geregte uit Karoo Lam daar te stel. Mariette Crafford het gehelp met die opleiding en beoordeling en Ryan Boon en sy span het gehelp om die vleis aan die deelnemers en vir die Gala-dinee beskikbaar te stel.
Die akademiese en beleidswerk rondom die implimentering van Geografiese Indikatore oor die wêreld het oor die laaste 15 jaar geweldig uitgebrei en daar is nou 'n menigte van navorsers wat werk op die sosiale, geografiese, regulatoriese en beleidsdimensies van GI's. Tussen 5 en 8 Julie 2022 het afgevaardigdes van sowat 45 lande – hoofsaaklik buite die EU bymekaar gekom om sake oor GI's te debatteer. Die konferensie getiteld: “Worldwide perspectives on Geographical Indications” is aangebied deur CIRAD en is gehou in Montpellier, Frankryk. Suid-Afrika se afvaardiging was sowat vyf persone en Rooibos en Karoo Lam was beide verteenwoordig. Prof. Kirsten het die verhaal van Karoo Lam sedert 2006 tot 2022 vertel tydens 'n referaat getiteld: “Politics, regulations, contestation, and self interest in the struggle to register Karoo Lamb as a GI in South Africa”.
Die ondervinding van ander lande -selfs binne die EU - met die proses van registrasie en bestuur van GI's is min of meer dieselfde as in Suid-Afrika en dit neem 'n hele tydjie voordat produsente en handelaars die waarde daarin in sien om hul landbou-erfenis te beskerm.
Karoo Lam Konsortium het op uitnodiging van die Europese Unie die voorreg gehad om ons kantoorbestuurder, Charles Erasmus, te stuur om die gevorderde kursus oor Geografiese Indikatore in Frankryk by te woon. Die aantreklike landskappe aan die weskus van Frankryk het as agtergrond gedien vir hierdie geleentheid wat van 25 September tot 2 Oktober 2022 plaasgevind het. Dit is bygewoon deur 30 professionele individue uit 'n totaal van 24 verskillende lande. Hierdie individue het almal relevante ondervinding gehad rakende die bestuur en wetenskap van GI's. Onderwerpe soos hoe om GI's toe te pas, te bestuur en te beskerm is gedek tydens die stampvol leerweek.
Die opleidingsweek het in die Guérande-Sout Museum plaasgevind waar hulle verskeie interaktiewe sessies, gevallestudies, groepwerk en aanbiedings gehad het. Al die sessies is gelei deur kundiges op hul onderskeie gebiede. Volgens Charles was die praktiese benadering van die kursus uiters voordelig en dit was fassinerend om te leer oor die baie suksesvolle GI van “Guérande Salt”.
Hierdie kursus was 'n uitstekende geleentheid vir Charles om met individue van regoor die wêreld te netwerk wat soortgelyke GI-uitdagings in hul tuislande in die gesig staar. Charles het genoem dat van die belangrikste punte vir hom was die feit dat baie suksesvolle GI's jare lank gesukkel het om rolspelers in die waardeketting, soos produsente, te oortuig hoe 'n GI hul besigheidsmodelle en lewens kan bevoordeel.
Nog 'n sleutelaspek vir hom was die feit dat die Kollektiewe Bestuursorganisasie (Collective Management Organisation) — in ons geval die Karoo Lam Konsortium — 'n sleutelrol speel in die bestuur van al die belangrike sake, soos administrasie, kontrolering, storievertelling en instandhouding van die reëlboek en om nie net 'n GI suksesvol te vestig nie, maar ook om dit in stand te hou en te laat groei. Laastens, speel die regering en sy onderskeie departemente 'n deurslaggewende rol in die beskerming van die GI teen vervalste produkte, gekopieerde produkte en bedrog, terwyl dit ook integriteit in al die prosesse handhaaf. Die regering het die mag om sanksies af te dwing teen hierdie oortreders, wat 'n kritieke rol speel in die beskerming van die GI.
Ten slotte, Charles was gelukkig genoeg om die GI-opleidingskursus in Frankryk by te woon en het nou 'n beter begrip van hoe GI's boerderygemeenskappe, produsentegroepe en selfs regerings kan bevoordeel. Hy het met 'n magdom nuwe kennis van die ervaring weggekom en hy sien daarna uit om dit wat hy geleer het op die Karoo Lam GI toe te pas.