DECEMBER 2021
Johann Kirsten, Voorsitter: Karoo Lam Konsortium
‘n Jaar gelede het ons in ons 2020 nuusbrief gedink 2020 was een van die mees ontwrigtende jare in dekades weens die gevolge van die COVID-19 pandemie. Min het ons geweet dat die realiteite van die COVID-19 pandemie nog lank nie met ons klaar is nie. Daarmee saam het die knellende droogte al wat ‘n Karoo boer is, se gemoed gebreek. Daar was dus basies geen Karoo Lam wat bemark kon word nie en die wat glo aan die beginsel van hoe Karoo Lam geproduseer word, het voet by stuk gehou en die reëls met oortuiging toegepas. Ten spyte van hierdie moeilike tye was 77 boere nog bereid om hul lidmaatskap te betaal. Hierdie inkomste, tesame met die lidmaatskap fooie van Carnarvon en Williston abattoir en die sowat 10 kleinhandelaars het darem gehelp dat die Karoo Lam Konsortium sy verpligtinge teenoor SAMIC, die webwerf bestuurder en ander oorhoofse kostes kon nakom. Hiervoor is ons almal baie dankbaar.
Die droogte en gebrek aan lam vir bemarking, kliënte en aanvraag het vir die direksielede van die Karoo Lam Konsortium die nodige tyd gebied om ‘n reeks strategiese aksies te loods om gereed te wees met ‘n meesterplan wanneer die Karoo streek uit die droogte kom en weer terug kan gaan na die normale produksiepatrone en bemarking van veld lammers.
Die milde reën in meeste dele van die Karoo streek sedert Oktober 2021 was ‘n groot verligting vir meeste en dit lyk of daar wonderlike herstel van die Karoo veld is – maar dit sal seker nog ten minste ‘n jaar van rus en herstel nodig hê. Die reën en die hoop dat normaliteit sal terugkeer het gelyktydig gekom met die sukses op verskeie fronte wat lede van die Karoo Lam Konsortium in die volgende twee jaar tot voordeel sal strek. Dus is ons strategie om die stil tyd te benut om strategies te kyk na die toekoms met sukses en hoop bekroon.
Hierdie nuusbrief gee breedvoerig terugvoering oor al die aksies van die afgelope jaar.
Strategiese Beplanningsessie
Die Direksielede het op 1 Junie 2021 ‘n strategiese beplanningsessie gehou by die Rust en Vrede Landgoed buite Stellenbosch. Die gesprek is gefasiliteer deur Frans van Wyk, een van ons direkteure. Sy kennis en ervaring met strategiese beplanning het ons gehelp om die visie vir Karoo Lam, huidige tekortkominge en beperkinge te identifiseer. Uit die SWOT analise was dit duidelik watter aksies geloods moet word om die toekoms van Karoo Lam as ‘n hoogs aangeskrewe en waardevolle produk te verseker. Dit is die volgende:
- Kommunikasie aan lede, potensiële kliënte en bemarking van Karoo Lam moet opgeskerp word deur: opdatering van die webwerf, beter brosjures en ook meer storie vertelling om die boodskap en uniekheid van Karoo Lam oor te dra.
- Hierdie sal help met die belangrike proses van her-posisionering van Karoo Lam in die mark vir rooivleis. Dit sal beteken dat daar meer inklusiewe lidmaatskap is met al die Karoo boere en al die Karoo abattoirs as lede van die Konsortium. Dit is krities vir koördinasie en vir ‘n geheel benadering tot die toekoms van Karoo Lam.
- ‘n Belangrike komponent van bostaande is die aanstelling van “Brand Ambassadors” as ‘n meganisme om meer kliënte te werf en ook groter aftrek in die mark te bewerkstellig.
- Vir meeste van bostaande aktiwiteite is daar fondse nodig en daarom is een belangrike aspek fondswerwing. Die Direksie het dus besluit om by die GI ondersteuningsfonds van die Europese Unie aansoek te doen.
- Een kritiese aspek van enige streeks gebasseerde produk is die waarborg dat die produk wel uit die streek kom en ooreenkomstig met die reëls van die streek produseer word. Hiervoor is ‘n onfeilbare oudit sisteem en naspeurbaarheidstelsel nodig. Hierdie saak het dus ook dringende aandag nodig om huidige prosesse op te dateer en te verbeter.
- Laastens is dit nodig dat die proses om Karoo Lam amptelik as ‘n Geografiese Indikator te registreer, voltooi word. Daar is derhalwe besluit om nóu met die Departement van Landbou saam te werk om die laaste tegniese aspekte vir die registrasie uit die weg te ruim sodat die proses gefinaliseer kan word.
Na afloop van die strategiese sessie het ons aan die werk gespring en op ons Direksievergadering in November kon ons al met sukses rapporteer op die volgende:
EU ondersteuningsfonds
Soos besluit het die Karoo Lam Konsortium aansoek gedoen vir finansiële ondersteuning by die ondersteuningsfonds vir die implimentering van Geografiese Indikatore in lande in Afrika en Suid-Amerika. Ons het spesifiek vir fondse aangevra om die punte soos gedefinieer in ons strategiese sessie te befonds. Ons kan rapporteer dat ons suksesvol was en die projek wat oor 30 maande vanaf 1 Februarie 2022 sal strek, is befonds met ‘n begroting wat voldoende is om die doelwitte van die direksie te implementeer. Die totale projek koste is heelwat groter aangesien daar ‘n vereiste van mede-befondsing is. Die fondse uit ander bronne is:
- Karoo Lam Konsortium se ledegelde
- Stellenbosch Universiteit – personeelkoste, reiskoste en studente beurse
- Wes-Kaap provinsiale regering
Die direksie is tans besig met die kontrakteringsproses sodat die eerste fondse betyds ontvang sal wees vir die afskop datum van 1 Februarie 2022. Hierdie proses behoort ‘n deal maker te wees vir die toekoms van Karoo Lam.
Registrasie van Karoo Lam GI
Lede van die direksie het deurentyd met die Departement van Landbou saam gewerk om die wetlike en tegniese aspekte van die voorgenome registrasie in plek te stel. In hierdie verband het die direksie die Departement gehelp met die voorgestelde veranderinge van die regulasies vir die registrasie van GI’s. Die nuwe regulasies behoort die registrasie van GI’s in die toekoms heelwat te vergemaklik om te verhoed dat die proses onnodig belemmer en vertraag word deur onnodige tegniese vereistes.
Die Departement van Landbou het darem nou ook die belangrikheid begin in sien waarom Karoo Lam se naam en identiteit beskerm moet word en dat hulle ook ‘n belangrike rol behoort te speel in die proses. Die amptenare het verskeie gesprekke tussen eienaars van al die sogenaamde kwaliteit merke wat na Karoo Lam verwys, byeengeroep. Die proses is afgesluit met ‘n werkswinkel op 10 Desember 2021 waartydens eenstemmigheid bereik is oor die basis reëls vir die produksie van Karoo Lam. Dit baan dus nou die weg vir die suksesvolle registrasie van die Karoo Lam Geografiese Indikator.
Kantooradministrasie
Lede het waarskynlik nou opgemerk dat ons die afgelope 18 maande ‘n voltydse persoon in die Karoo Lam Kantoor het in die naam van Charles Erasmus. Charles bestuur die lede-databasis, die koördinering van oudits met SAMIC en sorg ook dat alle fakture betaal word en ook ledegeld invorderings gedoen word. Die Direksie en baie van die lede het ook reeds hul tevredenheid met die huidige prosesse uitgespreek. Charles is altyd bereikbaar per telefoon of per epos en hanteer baie navrae van voornemende kliënte wat graag Karoo Lam wil verkoop. Die droogte en die onbeskikbaarheid van Karoo Lam uit ons abattoir vennote was dus ‘n groot frustrasie vir ons proses om nuwe kliënte te werf.
Lede kan gerus weer kennis neem van die kantoor kontakbesonderhede: Tel: 066 317 6593
Epos: info@karoomeatoforigin.com
Jaarvergadering
Weens die droogte en die COVID-19 pandemie moes ons noodgedwonge die 2021 jaar vergadering van lede van die konsortium uitstel. Dit sal nou as volg plaasvind:
Vrydag 4 Februarie 2022 om 10h30
Carnarvon Gholfklub
Ons versoek alle lede om die vergadering by te woon om die ledegelde vir 2022 te bekragtig en ook kennis te neem van die plan van aksie vir die nuwe jaar.
Die direksie wens graag al die lede van die Karoo Lam Konsortium ‘n gelukkige en geseënde vakansie periode toe en ons vertrou dat die streek met nog opvolg reën geseënd sal wees vir ‘n fantastiese 2022.