Nuusbrief #2 - 2019

1 August 2019 by

Aan al die lede van “Meat of Origin Karoo”

Die nuwe jaar het soos ‘n verskietende ster verby gesnel sonder dat daar kans was om nuuswaardighede met al die ondersteuners van die Karoo lam sertifisering skema te deel. Die voortslepende droogte het ook ‘n dramatiese impak op die lewering van Karoo Lam en dit is duidelik baie moeilik vir baie boere om enigsins vry lopende Karoo lam te lewer. Goeie weiding bestaan feitlik glad nie meer in baie dele van die Karoo streek nie en maak die produksie van Karoo Lam dus onmoontlik. Dit is dus ‘n strawwe toets vir die reputasie en outentiekheid van Karoo lam in hierdie moeilike tye.

Regulasies insake Geografiese Indikatore gepubliseer

Ten spyte van die slegte nuus oor die droogte is daar darem so ‘n brokkie goeie nuus. Die Departement van Landbou het na ‘n lang proses van meer as drie jaar uiteindelik die Minister gekry om die reëls vir die registrasie van Geografiese Indikatore (GI) te onderteken. Die finale reëls bekend as: “Regulations relating to the protection of Geographical Indications used on agricultural products intended for sale in the Republic of South Africa (No. R.447) is op 22 Maart 2019 in die Staatskoerant gepubliseer. Hierdie dokument reguleer nou die proses waarvolgens Geografiese Indikatore, soos Karoo Lam, geregistreer en beskerm sal word.

MOOK se direksie het in reaksie hierop die formele besluit geneem om die aansoek vir die beskerming van die naam “Karoo lam” in te dien. In wese is die aansoek daarop gemik om die sertifiseringsmerk as die teken van die Karoo Lam GI te vestig en daardeur alle privaat handelsmerke wat aan die KMOO protokol voldoen, die geleentheid te gee om Karoo lam te bemark. As hierdie proses voltooi is sal dit die werk van meer as ‘n dekade (sedert 2008) om die naam Karoo lam te beskerm tot vervulling bring.

Die Direksie van MOOK wil hiermee ook al die lede wat hierdie lang pad geloop het bedank vir hul ondersteuning en deursettingsvermoë. Ons vertrou dat die proses uiteindelik voltrek sal word en dat daar goeie orde in die mark vir Karoo lam sal heers in die nabye toekoms.

Die Karoo lam naam behoort aan almal in die Karoo en die idee met die GI is om die reëls vir Karoo lam vas te maak sodat mense wat onder valse voorwendsels (soos uit voerkrale, aangeplante weidings en buite die Karoo streek) Karoo lam verkoop, vervolg kan word. Ten spyte van die feit dat almal beslis weet wat Karoo lam beteken is daar selfs onder ons eie Karoo inwoners mense wat Karoo lam verkoop sonder dat dit aan die filosofie en reputasie van die Karoo naam voldoen. Daar is net een rede waarom Karoo lam bekend is en dit is die feit dat die lammers van die Karooveld bemark word. Deur die naam te misbruik en die verbruiker om die bos te lei is soos om ‘n Ford Ranger bakkie te verkoop met ‘n VW Beetle enjin in. Dit kan mos nie werk nie! Dit is nogal skokkend om te sien hoe mense bereid is om oneerlike bemarking metodes te gebruik om hul produkte te verkoop. Die hoop was nog altyd dat die KMOO sertifiseringsmerk mense die geleentheid gee om op ‘n eerlike manier Karoo lam te bemark en daardeur aan die verbruiker die versekering te gee dat hulle al die aansprake kan bevestig. Dit bly dus ‘n groot bekommernis vir die Direksie van MOOK waarom baie mense in die Karoo nog steeds dink hulle kan beter doen deur hul eie handelsmerk en webwerf en bemarking proses te bedryf. Die koste en al die prosesse om aan die Departement Landbou se reëls te voldoen regverdig nie die koste en moeite vir ‘n individuele onderneming nie.

Betaling van 2019 ledegelde

Die lede van Meat of Origin Karoo (MOOK) het weer getrou hul 2019 ledegelde betaal en daarvoor wil ons as direksie almal hartlik bedank. In totaal is 278 plase met ‘n totale oppervlakte van 1 220 053 hektaar nou gelys. Verder is daar benewens die twee abattoirs (Williston en Carnarvon) ook 10 kleinhandelaars en twee internet verspreiders gelys. Dit beteken dus dat MOOK finansieel gesond is en in staat is om al die ouditkoste van SAMIC te betaal en ook die administrasie en ander belangrike sake vir die koördinasie van die sertifisering skema te onderhou.

Reëlings vir boere en ander lede wat nog steeds lid wil wees maar nie betyds betaal het nie

Die volgende reëlings sal geld vir lede wat nie opbetaal is nie.

1. Lede wat in 2018 opbetaal was en wel ‘n faktuur ontvang het vir 2019 ledegeld maar nie voor 31 Maart 2019 betaal het nie, word van die lys verwyder. Hulle kan egter weer op die 2019 lys geplaas word met betaling van die ledegelde plus ‘n R250 boete en administrasie fooi. Om dit te fasiliteer sal ‘n nuwe faktuur op versoek uitgereik word.

2. Lede wat in die jare voor 2018 nie betaal het nie is ook outomaties nie op die aktiewe lede lys nie en het ook nie fakture vir 2019 ontvang nie. Die enigste manier om weer aktiewe lid te word is deur van nuuts af aansoek te doen.

Verkope van Karoo lam

Met 2018 nou agter die rug is dit nou ‘n goeie geleentheid om die jaar in oënskou te neem en die verkoopsyfers te rapporteer.

Vir die 12 maande periode van Januarie 2018 tot Desember 2018 is ‘n totaal van 19 356 gesertifiseerde Karoo lammers by boere aangekoop en aan die verskillende kleinhandelaars verkoop. Dit is gelykstaande aan ‘n gemiddelde van 1 600 lammers per maand. November 2018 was weer die rekord maand met 3 180 slagtings. Ten spyte van die ontsettende droë toestande is daar met moeite darem nog ‘n goeie aantal KMOO lammers in die eerste ses maande van 2019 gelewer. Die maandelikse gemiddelde is weliswaar af na sowat 1 400 lammers per maand en tot en met einde Junie 2019 ‘n is ‘n totaal van 8 823 egte Karoo lammers geslag.

Die boere lede van MOOK is baie verskuldig aan die kleinhandelaars en die Williston en Carnarvon abattoirs vir hierdie syfers en hul getroue ondersteuning in die bemarking van Karoo lam deur die jare. Dit is veral die twee abattoirs wat ons moet bedank. Nie net maak hul ‘n maandelikse kontant bydrae tot MOOK se bedryfskoste nie maar slaag daarin om ten spyte van die verliese aan die mark kant om ‘n premie van tussen R3 en R5 per kilogram aan boere deur te gee. Die afgelope jaar was die premie in meeste maande in die orde van R4 wat beteken dat KMOO boere tussen R60 en R80 meer per lam kan ontvang. So in meeste boere se gevalle het die bemarking van 30 KMOO lammers die jaar se ledegelde gedek. Hierdie is ‘n geweldige voordeel wat die abattoirs aan boere deurgee vir die moeite wat hulle doen om die protokol en produksie praktyk van egte Karoo Lam in plek te hou.

Karoo Meat of Origin klere


Albertus Erasmus het baie moeite gedoen om gholf hempies en pette met die KMOO logo te ontwerp. Sien die voorbeelde hiernaas. Enige iemand wat belangstel om van die klere te bestel kan gerus met Albertus kontak maak by: ae@eproc.co.za. Vir lede se gerief het Albertus ook ‘n bestelvorm saamgestel wat gebruik kan word om bestellings te plaas.

Afsluiting


Ten slotte wil die Direksie weereens alle lede bedank vir hul getroue ondersteuning en bydrae om MOOK en die meegaande sertifisering skema ‘n sukses te maak.

Ons beplan om die algemene jaarvergadering in middel Oktober 2019 op Carnarvon te hou. Lede sal binnekort van die finale datum en tyd in kennis gestel word.

Vriendelike groete
Johann Kirsten


Share this post