MEAT OF ORIGIN KAROO NPC
(Nr 2012/078056/08)
Nuusbrief #1/2018
Aan al die lede van “Meat of Origin Karoo”
Hiermee wil ek u graag op hoogte bring van die jongste nuus uit die Karoolam-stal:
Betaling van 2018 ledegelde
Die direksie van Meat of Origin Karoo (MOOK) wil graag van die geleentheid gebruik maak om al die lede van MOOK te bedank vir hul pligsgetroue betaling van die 2018 ledegelde. Met die afsnydatum van 31 Maart 2018 was 111 van die 120 MOOK lede van die 2017 ledelys reeds opbetaal. Dit is gelykstaande aan 92.5% en is sprekende van die lede (boere, abattoirs, kleinhandelaars) se volgehoue ondersteuning van hierdie skema. Dit beteken dus dat MOOK finansieel gesond is en in staat is om al die ouditkoste van SAMIC te betaal en ook die administrasie en ander belangrike sake vir die koördinasie van die sertifisering skema te onderhou.
Waarom die streng afsnydatum vir betaling van ledegelde?
Die reëls van die sertifisering skema soos deur SAMIC en DAFF goedgekeur vereis dat 10% van die gelysde plase jaarliks geoudit moet word om te verifieer dat boere (en dan ook abattoirs en kleinhandelaars) aan die reëls van die sertifisering skema voldoen en dat verbruikers gerus gestel kan word dat die Karoo Lam wat hulle in die winkel aankoop inderdaad van ‘n Karoo plaas kom en nie van voerkrale of lusernlande nie.
MOOK het met SAMIC ooreengekom dat die 2018 lys van Karoo plase op 1 April 2018 aan hulle verskaf sal word sodat die 10% plase vir hul ouditprogram geselekteer kan word. Dit was daarom noodsaaklik om alle betalings teen 31 Maart 2018 te ontvang. Dit help nie vir ons om onaktiewe en nie-opbetaalde lede te lys nie want dan moet daar meer oudits gedoen word en dus sal MOOK onnodige uitgawes aangaan ten opsigte die betaling van die ouditfooie aan SAMIC en dus sal die finansiële oorlewing van die organisasie en die sertifisering skema in gedrang wees.
Reëlings vir boere wat nog steeds lid wil wees maar nie betyds betaal het nie.
Die Direksie van MOOK het op hul onlangse vergadering op Williston op 28 Maart 2018 ooreengekom dat die volgende reëlings sal geld vir lede wat nie opbetaal is nie.
1. Lede wat in 2017 opbetaal was en wel ‘n faktuur ontvang het vir 2018 ledegeld
maar nie voor 31 Maart 2018 betaal het nie, word van die lys verwyder. Hulle kan
egter weer op die 2018 lys geplaas word met betaling van die ledegelde plus ‘n
R250 boete en administrasie fooi. 2 Om dit te fasiliteer sal ‘n nuwe faktuur op
versoek uitgereik word maar BTW teen 15% sal nou van toepassing wees.
2. Lede wat in 2016 en 2017 nie betaal het nie is ook outomaties nie op die aktiewe
lede lys nie en het ook nie fakture vir 2018 ontvang nie. Die enigste manier om
weer aktiewe lid te word is deur van nuuts af aansoek te doen. Die vorms en
bankbesonderhede en ander details is beskikbaar op die webwerf
(karoolamb.agritrust.africa)
Verkope van Karoo lam
Met 2017 nou agter die rug is dit nou ‘n goeie geleentheid om die jaar in oënskou te neem en die verkoopsyfers te rapporteer. Vir die 12 maande periode van Januarie 2017 tot Desember 2017 is ‘n totaal van 12 474 Karoo lammers by boere aangekoop en aan die verskillende kleinhandelaars verkoop. Dit is gelykstaande aan ‘n gemiddelde van 1 040 lammers per maand. November 2017 was die rekord maand met 1 412 slagtings terwyl Januarie maand die minste opgelewer het (slegs 766).
Ten spyte van die ontsettende droë toestande is daar met moeite darem nog ‘n goeie aantal KMOO lammers in die eerste drie maande van 2018 gelewer. Met ‘n totaal van 3 138 vir Januarie tot Maart beteken dit dat ons in staat was om die maandelikse gemiddelde van 2017 te handhaaf. Dit is egter so dat ons tans sukkel om aan die volle vraag te voldoen en met die hoop dat die weidingstoestande sal verbeter en meer lammers van die veld bemark sal kan word is daar goeie potensiaal om die verkope van KMOO lammers na ongeveer 1 500 en meer per maand op te stoot. Februariemaand se lewerings van slegs 738 was tekende van die ongelooflike moeilike toestande.
Neem kennis: Dit is weereens belangrik om lede en ook hulle agente daarop te wys dat diere uit voerkrale en vanaf lusernlande nie as gesertifiseerde Karoo lammers kwalifiseer nie. Welliswaar kan boere nog steeds veld lammers as gesertifiseerde Karoo lammers lewer al kry die lammers byvoeding of hulp voeding in die veld. Dit word aanvaar dat die dier nog steeds in staat is om ten minste 30-50% van sy daaglikse voerinname nog uit die veld te kan bekom al is die veld karig.
Die beginsels van sertifisering vat ook pos onder ander veebedrywe.
Sedert die vestiging van die Karoo Meat of Origin sertifisering skema vir Karoo Lam en Karoo skaapvleis is die Direkteure en stigterslede gereeld deur ander bedrywe om advies en raad gekonsulteer. Dit is daarom nogal merkwaardig om te sien dat dieselfde beginsels nou in plek is by die “Wagyu telersgenootskap” en ook by die “Grass fed Beef” en ook “Angus” groeperinge. Die gedagte om vir verbruikers bepaalde waarborge van die eienskappe van rooivleis produkte te verskaf is dus besig om wyd pos te vat. Ons verskaf graag ter illustrasie hiervan uittreksels uit die onlangse nuusbrief van die Wagyu telersgenootskap:
“Ons werk nog steeds met ons programmeerders om ons registrasievorms op te dateer. Die nuwe vorm sal elke dier se kleur, die toepaslike embrio-inligting, die elektroniese nommer en die DNS-nommer insluit. Ons hoop dat die nuwe registrasievorm teen einde April afgehandel sal wees. Die opdatering van die vorm sal egter vereis dat lede die ontbrekende data op 'n diere-lys verskaf wat in Junie aan produsente versprei sal word, tesame met die jaarlikse heffing (vir koeie ouer as 18 maande”
“Bemarking wenk:
Laat jou plaas- of maatskappy naam op google "maps" en soek-enjins verskyn. As ek Wagyu SuidAfrika op Google Maps opsoek, vertoon slegs twee entiteite. Dit is maklik om u inligting in te voer...”
Hierdie aspekte behoort alles baie bekend te wees aan KMOO lede en wys net weereens hoe Karoo Lam die baanbrekerswerk vir die ander bedrywe gedoen het. Hierdie organisasies gaan deur dieselfde groeipyne en sukkel ook met afdwing van die reëls en polisiëring van die ‘merke’ in die handel. Tog baie insiggewend!
Karoo Meat of Origin klere
Albertus Erasmus het baie moeite gedoen om gholf hempies en pette met die KMOO logo te ontwerp. Sien die voorbeelde hiernaas.
Enige iemand wat belangstel om van die klere te bestel kan gerus met Albertus kontak maak by: ae@eproc.co.za.
Vir lede se gerief het Albertus ook ‘n bestelvorm saamgestel wat gebruik kan word om bestellings te plaas.
Afsluiting
Ten slotte wil die Direksie weereens alle lede bedank vir hul getroue ondersteuning en bydrae om MOOK en die meegaande sertifisering skema ‘n sukses te maak.
Vriendelike groete
Johann Kirsten
23 April 2018