Nuusbrief #2 - 2018

10 Julie 2018
10 July 2018 by


Beste, in hierdie nuusbrief verskaf ons 'n kort, maar belangrike mededeling, aan al ons lede insake die bemarking van gesertifiseerde Karoo vleis.

Ons vertrou dat beide inisiatiewe hier genoem, van waarde sal wees en dat lede hierdie geleentheid sal gebruik om meer waarde te ontsluit en die naam van die Karoo met trots verder uit te dra.

Vriendelike groete,

Johann Kirsten

PROFIEL VAN GESERTIFISEERDE KAROO PLASE

Baie Karoo boere en lede van MOOK wil graag hul lidmaatskap en gesertifiseerde status gebruik om meer waarde toe te voeg tot hul produkte. Dit is egter nie so algemeen bekend hoe dit gedoen kan word nie, alhoewel al die meganismes en bemarkingsmateriaal wel beskikbaar is. Ons verduidelik graag hieronder.

MOOK het destyds met behulp van die Noord-Kaap regering se befondsing verskeie aksies geloods om etikette, bokse, baniere, ens te ontwerp. Hierdie aanvanklike ontwerpe en vervaardiging van die ‘meester’ kopie is ‘n groot onkoste maar is nou beskikbaar vir lede se gebruik. Een van die belangrikste maniere om ons produk meer sinvol te bemark aan verbruikers is goeie en netjiese verpakking. In hierdie verband speel die karton bokse wat MOOK destyds ontwerp het ‘n belangrike rol. 

Met die voorrade van die aanvanklike boks oplaag wat nou laag is, het die MOOK direksie besluit om nog ‘n oplaag by die maatskappy in Boksburg te laat druk en die prys aan lede te subsidieer. (Kleur druk op goeie en stewige karton is duurder as ander eenvoudige opsies).

Die drukwerk is nou voltooi en met die goeie en aktiewe ondersteuning van Jaco de Bruyn by KLK in Upington het die vragmotor op Dinsdag 3 Julie 2018 die vrag van 2500 10kg bokse en nog ‘n vrag 25kg bokse in Carnarvon afgelaai. Hierdie bokse sal nou beskikbaar wees by Top Tjops in Carnarvon en by Karusaf in Williston en ook by Ryan Boon in die Paarl vir lede se gebruik.

Daar is egter belangrike reëls vir die gebruik van die bokse vir eie gebruik en privaat bemarking:

  1. Slegs karkasse wat van gesertifiseerde plase kom, mag in die bokse verpak word.
  2. Dit is belangrik dat boere die korrekte verwyderingsertifikaat by die abattoir voltooi en bevestig dat die diere (lam, twee-tand of volbek) wel van die spesifieke plaas kom.
  3. Maak seker die sertifiseringsnommer van die plaas word ook aangedui.
  4. Maak die abattoir daarvan bewus dat dit wel ‘n KMOO dier is en versoek KMOO stempel en rol merk.
  5. Geen opsaag mag tuis en by ongelisensieerde ondernemings gedoen word nie.
  6. Die gestempelde karkas word dan deur die verwerker (Top Tjops, Ryan Boon of Karusaf) gekontroleer en die sertifiseringsnommer word dan ook op die boks aangebring.
  7. Lede is dan vry om hul eie prys te maak en aan enige iemand te verkoop of te skenk.  

Die kontrole punt vir die sertifiserings reëls is by die abattoir en by die verwerker en moet streng toegepas word om te verseker dat al SAMIC en DAFF se reëls insake vleis higiëne en naspeurbaarheid nagekom word.

PRIVAATBEMARKING VAN “KAROO MEAT OF ORIGIN” PRODUKTE

Die MOOK direksie het vroeër vanjaar besluit om die “members” bladsye op die “Karoo Meat of Origin” webwerf op te dateer en die soek fasiliteit te verbeter. 'n Mens kan nou ook met behulp van die boer se naam of plaasnaam ‘n soektog op die databasis doen. Lede kan gerus na die bladsy www.karoomeatoforigin.com/karoo-members/ gaan loer en kyk of hul foto’s en inligting daar is en wel op datum is. Dit is elke lid se verantwoordelikheid om die korrekte foto’s en kort geskiedenis en of storie na te gaan. Indien lede dit wil verander of foto’s en stories wat nog nie ingesluit is nie wil aanstuur kan dit aan Anemi Viljoen per epos (anemivljn@gmail.com) aangestuur word. Sy sal dan verantwoordelikheid neem om dit op die webbladsy te plaas.

Die inligting en foto's van die plaas is 'n belangrik deel van die naspeurbaarheidsproses en ook ‘n ideale geleentheid vir boere om ekstra waarde tot hul produk te voeg en daardeur vir hulself ‘n naam te bou.

Share this post